20ste Suidoosterfeesprogram volgepak met verjaardagvieringe

Die Suidoosterfees nooi feesgangers uit om die spreekwoordelike kersies te kom uitblaas by die 20ste fees wat van 26 April tot 1 Mei 2023 in Kaapstad plaasvind. ’n Volgepakte program met spesiale 20ste verjaarsdagaanbiedinge wag op feesgangers.

Op 26 April open die fees met die Afskop-konsert in samewerking met Kaapstad se Filharmoniese Jeugorkes en dieNasionale Jeugmusiekstigting. Op musiekfront is daar 20 Musical Moments met André Schwartz, Lynelle Kenned, Emo Adams, Pierre van Heerden en Niël Rademan; House of Rhythm met die US Jazz band, Gloria Bosman en Timothy Moloi; en die ATKV Koorgala met Zanne Stapelberg, Brittany Hope Smith, Conroy Scott, Nina Schumann en Megan-Geoffrey Prins. Elwira Standili, Anslin Gysman, Jodi Jantjies en Jonathan Rubain is op in die musiekverhoog met Dankie.

Soos altyd is opera ’n gewilde afdeling op die feesspyskaart, en vanjaar is L’inganno felice op die planke in Artscape se Operahuis. Gewilde Suidooster-akteurs is ook terug op die feesverhoog in Suidooster Stormsterk 2. Die US Koor tree vanjaar vir die eerste keer by die fees op, en ’n herdenkingskonsert word gehou om die nalatenskap van prof. Jakes Gerwel, ’n stigterslid van die Suidoosterfees, te vier. Soomloos word in samewerking met Kaapstad se Filharmoniese Orkes uitgevoer. Geswore feesgangers kan saans hul skoene uitskop by Late Night/Laataand Boogie met Gary Naidoo, Lucy Tops en ander vermaaklikheidsterre.

Die musieklegendes Coenie de Villiers en André Schwartz skitter in Grensloos by Suidoosterfees 2023.

Tydens die 20ste Suidoosterfees spog die NATi Teaterfees vanjaar met 20 verhoogproduksies. Bul, ’n vlymskerp donkerkomedie met Wian Taljaard, René Cloete, Wynand Kotze en Peggy Tunyiswa, is op die program. Marthinus Basson is in die regisseurstoel met Reza de Wet se Mirakel. Dawid Minnaar, Brümilda van Rensburg, Edwin van der Walt, Carla Smith, Eben Genis en Rolanda Marais is in die rolverdeling van dié klassieke drama. Magda Louw van die gewilde kykNET-komedie debuteer met ’n eenvrouvertoning by die fees, en Lee-Ann van Rooi is te sien in die produksie The woman who fed the dogs, ’n opspraakwekkende drama wat in samewerking met Belgiese skrywers en kunstenaars aangebied word.

KykNET se skreeusnaakse Magda Louw debuteer in ’n eenvrouvertoning by vanjaar se Suidoosterfees.

Die gewilde Stemme-produksies trek vanjaar ’n nuwe baadjie aan. Kort, kragtige dialoë met 20 akteurs, 10 regisseurs en 10 skrywers, spesiaal vir die 20ste Suidoosterfees, gaan gratis by die fees opgevoer word. Dié innoverende projek word saam met LitNet, NATi en die ATKV aangebied, en van die skrywers is Deon Opperman, Valda Jansen, Rachelle Greeff, Nathan Trantraal, Marita van der Vyver en Bettina Wyngaard.

In die NATi Jong Sterre-afdeling debuteer vyf plinternuwe dramaproduksies deur jong skrywers wat deur die fees, NATi en die Jakes Gerwel Stigting opgelei is. En die ATKV Jeugteater-program is vanjaar volgepak met opvoerings deur studente van verskeie instansies. Vier van die ATKV se Tienertoneel-wenstukke word ook opgevoer.

Die kleinspan kan uitsien na Aspoestertjie … as die skoen pas, ’n aweregse kindermusiekblyspel van The Stage Performing Arts Studio. Rafiek Mammon se gewilde kinderboek, ’n Goue ster vir Faizel, is omskep in kinderteater, en Margit Meyer-Rödenbeck tree op in Verna Vels se Liewe Heksie vang vis.

NATi bring ook uitstekende musiekteater na die fees. Clara met Nina Schumann en Carla Smith handel oor die lewe van die komponis Clara Schumann, en Elzabé Zietsman is op die planke met die kabaret Femme is Fatale. Coenie de Villiers, Mauritz Lotz, Jana Cilliers, Antoinette Kellermann en Vinette Ebrahim deel die verhoog in Woordmusiek. Dan is daar Mixtape van die liefde met Jana Cilliers, Mathys Roets, Christo Davids, Anna Davel, Stephanie Baartman, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp. David Kramer se musiekblyspel Ver in die wêreld, Kittie gaan feesgangers meevoer met Rushney Ferguson, Jenny Stead, Dean Balie, Andre Terblanche en Dylan Roman in die rolverdeling.

In 2023 gaan die lagspiere ook geprikkel word. Dean Smith, Suidooster se geliefde Wade, se supergewilde persona op sosiale media, Bettie, kom deel haar stories vir die heel eerste keer in lewende lywe by die Suidoosterfees in Hallo, is Bettie wat praat. Tollie Parton kom maak ’n draai en ’n produksie met verskeie komediante gaan feesgangers vermaak in Lag meer as 20 keer.

Dean Smith, Suidooster se geliefde Wade, se supergewilde Bettie kom deel haar stories vir die heel eerste keer in lewende lywe by die Suidoosterfees in Hallo, is Bettie wat praat.

Die gewilde Jakes Gerwel-gespreksreeks word weer gratis aangebied. Die Vriende van Afrikaans bring In my wildste drome na die tafel met René Arendse, Lyntjie Jaars, Julian Jansen en Nadine Petrick. Jacques Pauw kom gesels oor sy boek Our Poisoned Land, en Richard Calland, Mabel Sithole en Zelda la Grange bespreek Suid-Afrika se oudpresidente in The Presidents – Leadership in the Age of Crisis.

Haidee Muller is in gesprek met Ivor Swartz oor sy nuwe boek, en Suzette Myburgh gesels met Crystal-Donna Roberts en Deidré Jantjies oor hulle nuwe kinderboeke. Beide skrywers het deelgeneem aan die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers se mentorskapprogram vir opkomende skrywers. Marianne Thamm gaan met Paula Fourie en David Kramer gesels oor Fourie se Taliep Pietersen-biografie.

Karatara, by KKNK 2022 as beste debuutproduksie aangewys, is op Suidoosterfees 2023 se dansprogram.

Verskeie dansproduksies deur verskillende geselskappe is op die spyskaart: Musiek à la carte met studente van Dance for All, Dance Synergy Volume II, spesiaal vir internasionale dansdag, en Stof deur die Garage Dance Ensemble. Dansklasse, gesprekke en opskietdansvertonings saam met Figure of 8 Dance Collective word aangebied, asook Sunset Salsa Social @ Suidoosterfees Piazza.

Vanjaar gaan feeskunstenaars tuis by die Garden Court Nelson Mandela Boulevard, Suidoosterfees se amptelike verblyfvennoot. Vir slegs R950 per persoon per nag wat deel, kan jy ook bed, ontbyt en kaartjies vir drie feesproduksies kry. E-pos vir Miandra vir dié spesiale feespakket by Miandra.Hayward@media24.com.

Ander spesiale afslagpakkette is ook by Miandra beskikbaar. Die Suidooster-pakket bied toegang tot Magda Louw, Hallo, is Bettie wat praat en Suidooster Stormsterk 2 teen slegs R300, en skoliere en studente kan drie feesproduksies teen R150 bywoon. Die ATKV bied ’n Tienertoneel-opleidingspakket vir onderwysers aan teen R1 200. Dit sluit toegang tot vier ATKV-Tienertoneel-wenproduksies, 11 teaterstukke en vier werkswinkels in.

Vir die volledige program, besoek www.suidoosterfees.co.za. Kaartjies kan bespreek word by Computicket, of skakel Artscape dial-a-seat by 021 421 7695. Kyk mooi op die program watter produksies is gratis, maar waarvoor jy per e-pos moet bespreek! Dit sal die Jakes Gerwel-gesprekke, dansproduksies en werkswinkels insluit.

Die Suidoosterfees word ondersteun deur die Department van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Media24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

Bron: Suidoosterfees Persverklaring

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *