WAT IS ‘N WESKUS-KUIER SONDER ‘N PADSTAL ONTBYT? AFSAAL PADSTAL BIED DIE BESTE VAN WAT DIE OMGEWING HET IN TUIS- EN HANDGEMAAKTE PRODUKTE IN ‘N KEURIG VERSIERDE, VRIENDELIKE WINKEL.
Die ‘Afsaal Padstal en Koffiewinkel’ lê op ‘n sowat 4km grondpad vanaf die hoofpad tussen Vrendenburg en Paternoster. Dit is hier waar die plaas se honde vriendelik kom groet, jy tuisgemaakte kaas en ‘n fees van crafts kan koop wat jy werklik kan gebruik.
Die welkome gevoel van Afsaal
Die personeel ontvang jou gemoedelik en gesels graag oor die omgewing en die plaas. Dit is maklik om hulle by name te leer ken. Geneva, Anneline, June die bestuurder en Alta en haar man, Dr Nel, die eienaars. Dr Nel kom loer in en groet net so vriendelik soos die res van die personeel. Herken dadelik my vriendin en kollega wat al by die kothuis gebly het en binnekort weer die lekkerte gaan geniet.
Jy kan kies om buite op die pragtige stoep te sit of binne waar jy in ‘n plaaskombuis instap en verwelkom word met heerlike koffie en ‘n gemoedelike atmosfeer. Jy voel tuis wanneer jy instap. Dit is ‘n warm gevoel en soos tuiswees in jou Ouma se kombuis. Die rakke vol tuisgemaakte konfyte en ander ingelegde produkte is ‘n bederf van ‘n verskeidenheid van keuses. Ek sukkel om my keuses te maak.
Lemon meringue vir die Pretorianers
‘Afsaal Padstal’ is die plek waar ‘n lemon merinque sommer vining aanmekaar geslaan word nadat ‘n besoeker uit Pretoria laat weet hy kom spesiaal daarvoor inloer. Hier word niemand teleurgestel nie.
Plaasontbyt
Wat ook nie teleurstel nie is die ontbyt. Geurig, tuisgemaak en ‘n ruim, smaaklike porsie soos jy kan verwag van ‘n padstal ontbyt. Die brood word self gebak, die kaas Alta se meesterstuk en die geure met komplimente van die personeel.
Die reuke uit die kombuis gee jou gou ‘n aanduiding van wat oppad is en waneer jy jou bestelling ontvang kan jy nie anders as om die selfoon te kliek vir ‘n foto nie. Deels om die oomblik vas te vang, deels om die mense tuis so effe groen te laat.
Die stilte en die mooi
Die stilte is ‘n sielerus en die mooi van die omgewing voer jou weg van beurtkrag, petrolpryse en miljoene onder beddens versteek.
Geniet die natuurskoon vir langer en bespreek ‘n nag of twee by ‘Die Afsaal Cottage’. ‘Die Afsaal Cottage’ kan vier mense huisves en beloof ‘n knus en gemaklike oornag tuiste. Ideaal vir ‘n romantiese wegbreek naweek vir ‘n paartjie.
Wanneer jy weer in die omgewing is en besluiteloos is oor waar om te gaan vir ontbyt, neem gerus die afrit na die ‘Trekoskraal’ pad waar ‘Afsaal Padstal’ jou begroet en geniet die lekkerte van ‘n plaasontbyt soos geen ander. Jy mag dalk net ‘n woef-kardoesie saamneem huis toe!
Annette Havenga – Happening News ©
Foto krediete: Surene Esterhuizen ©