Ben Albertyn: Pierre Malan in Dinge van ‘n kind

Een van my gunsteling karakters in Dinge van ‘n kind is Pierre Malan vertolk deur Ben Albertyn. Pierre Malan is só my tipe ou – diep denker, met ‘n sagte kant en ‘n hart wat in sy oë sit. In die begin het ek gedink hy mag dalk vir Mart oorrompel, maar was mal oor die outydse respek wat hy teenoor haar openbaar het. Ben se ervaring as akteur strek hoofsaaklik tot die verhoog – wat ook my gunsteling is. Ek dink min dinge kom by daardie “rush” wanneer jy op die verhoog optree en op jou voete moet dink.

Ben het ook verskeie toekennings gekry op verskeie Toneelfeeste, 12 waarvan ek weet. Hy is dus nie ‘n liggewig op die verhoog nie.

Ek het ‘n paar vrae aan Ben Albertyn gevra oor sy karakter, Pierre Malan, in Dinge van ‘n kind.

Ben, saam met Andahr Cotton, wat sy vriend Simon speel

·         Hoe verskil die verhoog na televisie vir jou? Wat ervaar jy anders?

Teater was vir lank my voorkeur, maar ek geniet film en televisie by die dag meer. Teater verg ‘n total ander inspanning en ek raak meegevoer op die verhoog in ‘n manier wat ek nog nie op ‘n filmstel ervaar het nie. Tog het ek met Dinge van ‘n kind goed geleer en ontdek oor film as medium wat my oneindig geinspireer het. As akteur kan mens meer intiem raak op skerm en sekere saggesproke emosies weergee wat maklik op die verhoog verlore kan raak. Teater sal altyd my eerste liefde wees, maar beide is verrykend op unieke maniere.

·         Jy het nie in die era van “weermag” groot geword nie. Alhoewel dit nie so “heavy” op die weermag-deel fokus nie, hoe het jy jouself vir die rol voorberei?

Ek het lang stukke met my pa gesels oor sy tyd in die weermag. Hy was gelukkig nie op die grens nie, maar ons gesprekke het my gehelp om te begryp hoe dit gevoel het om ‘n jong mens in daardie politieke oomblik te wees. Die musiek van daardie era, wat my karakter Pierre so lief voor was, het ook ‘n kulturele baken van soorte geword. Pierre se gunsteling was Pink Floyd, hulle musiek het sy vervreemding en woede perfek vasgevang. So, ek het noukeurig na hulle geluister en probeer hoor wat Pierre daarin gehoor het. Die vrees wat Pierre voel in die tonele net voor hy grens toe gaan is baie moelik om voor “voor te berei”. Dit is iets wat geen mense behoort te ervaar nie, maar ek het die karakter intiem leer ken deur die proses. Sy vrees lê diep en ek moes in ‘n paar tonele totaal oorgee daaraan.

·         Is jy voltyds akteur of het jy ‘n regte werk, met toneel as jou passie wat jou “sane” hou?

Ben, saam met Melissa Myburgh, tiener-Mart

Ek is ‘n voltydse akteur. Ek het ‘n breek gevat van spel vir ‘n paar jaar om verder te studeer, maar ek is vir nou eers klaar met die akademie. Ek skryf deeltyds kunskritiek vir die publikasie ArtThrob, maar spel is hoe ek meestal my brood en botter verdien.

·        Dis nog te vroeg in die reeks en ons weet nou nog nie, maar dink jy Pierre is verlief op Mart of is sy maar net afleiding?

Dis die groot vraag! Is Pierre verlief op Mart of nie? Dis een van die vraagstukke van Mart se lewe en die roman as ‘n geheel. Miskien selfs te belangrik vir my om ‘n konkrete antwoord daarop te gee, maar ek moes natuurlik die vraag vir myself beantwoord om die rol te vertolk. Wat ek wel kan sê is dat die antwoord lê in die kyke. Pierre sê min, maar sy oë gee alles weg.

Ben Albertyn is nog ‘n akteur oor wie ek baie opgewonde voel. Ek dink Pierre Malan was ‘n komplekse karakter om te vertolk en ek kan nie wag om te sien wat Ben Albertyn met verskillende persoonlikhede se vertolking sal doen nie.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *