Blinde mol of wyse uil? Hoe om met integriteit te leef deur Susan Coetzer word uitgegee deur Lux Verbi, ‘n druknaam van NB Uitgewers.
“Met hierdie boek wil ek almal aanmoedig om minder blinde mol en meer wyse uil te word.”
Daar is ’n groot behoefte aan mense met integriteit – mense met die volledige stel goue eienskappe wat hulle veelsydige, standvastige en betroubare wyse uile maak. Mense op wie jy kan peil trek. Susan bespreek die volgende eienskappe wat mense van integriteit het: eerlikheid, opregtheid, bedagsaamheid, waardering, respek, regverdigheid, getrouheid, deernis, nederigheid, vrede en omgeeliefde. Sy moedig ons aan om ook daardie eienskappe na te jaag in ons eie lewe.
Susan Coetzer, bekende skrywer en motiveringsspreker help jou op haar skreeusnaakse maar eerlike manier om jou eie lewe te ondersoek en seker te maak dat jy met integriteit leef.
In die voorwoord skryf Susan Coetzer dat sy juis in hierdie goddelose tyd waarin ons leef oor integriteit wil skryf eerder as nog ‘n dagstukkie boek. Hoekom? ’n Mens sou verwag dat Christene meer integriteit sou hê as nie-Christene. Dis iets waaroor ek as leser ook al dikwels gewonder het. Dinge wat my warm onder die kraag maak … daardie optrede deur sommige Christene wat maak dat nie-Christene dan sê dat hulle eerder nie ’n Christen wil wees nie.
Kom ons kies vandag om eerder ‘n Wyse Uil te wees wat integriteit uitleef as ‘n Blinde Mol wat integriteit skade aandoen deur oneerlikheid, leuens, valsheid, norsheid, wrokkigheid, haat, suinigheid, ontrouheid, skinder en vele meer.
Blinde mol of wyse uil? is by meeste boekwinkels en aanlyn beskikbaar.
- Uitgewer: Lux Verbi
- ISBN: 978-07963-2238-8
- ISBN: 978-07963-2260-9 (epub)
Boeke nuus word gebring in samewerking met NB Uitgewers
Surene Esterhuizen – Happening News ©