‘n Vloek oor Stormwater, slagoffers en ‘n kusdorp vol geheime! Gaan die twee tieners die waarheid uitvind of verswelg raak in die tsunami van wat die waarheid werklik is?
Mense glo daar’s ’n vloek oor Stormwater. Die see roep elke jaar sy slagoffers. Is dit waarom Caleb se pa se vliegtuig neergestort het? Caleb besluit om sy matriekvakansie op te offer om die geheim rondom sy pa se verdwyning te ontrafel. Freya word ook gedwing om haar somer in die vreemde kusdorp deur te bring – asof vars lug ‘n kitskuur sal wees vir haar kroniese siekte. Saam speel hulle speurder en ontbloot ‘n web van leuns wat so sterk bewaak word dat dit selfs lewensgevaarlik kan wees. Soos die titel suggereer – dryf … bly bo en oorleef.
DRYF, deur Cecilia Steyn, is ‘n lekker-lees jeugroman, maar is ewe tuis op ‘n volwassene se bedkassie en albei generasies sal dit moeilik vind om neer te sit. ‘n Heerlike speur-liefdesverhaal wat afspeel by die see. Die roman verwys ook na hoe ons as mens soms vergeet om na die natuur en omgewing te kyk en die karakters skroom nie om hulle opinies te lug nie.
… ek vertrou nie daardie drie nie, iets is af aan hulle … – DRYF Bl.228
Cecilia Steyn bederf ons al sedert 2015 met haar skryftalent en sê sy lees self graag fiksie vir jong volwassenes, en daarom het sy besluit om haar hand met hierdie genre te waag.
DRYF is aanlyn en by toonaangewende boekwinkels beskikbaar. ISBN: 9780798183307
Boeke-nuus word gebring in samewerking met NB-Uitgewers.
Annette Havenga – Happening News SA ©