Boeke nuus: Draers van die Lig

Draers van die Lig200 oordenkings vir vandag deur Stephan Joubert en Johan Smith

Draers van die Lig is 200 oordenkings vir mense vandag. Die oordenkings is relevant, kragtig en op die man af en bespreek alledaagse kwessies soos gebed, naasteliefde, vergifnis en genade en hoe om steeds draers van die Lig in die wêreld vandag te wees wat soms maar donker lyk.

Dis ‘n dagstukkie boek wat regtig kort en kragtige boodskappe bring. Ek is nogals ‘n inhoudsopgawe tipe girl, want ek hou daarvan om te weet wat kom, maar hier is geen inhoudsopgawe nie.  Die eerste dagstukkie is getiteld “Waag alles!” Ek haal aan:

“Dalk moet ons anders hierna kyk. Wie weet, dalk sal ‘n meer waagmoedige wens ons help om ‘n kopskuif in die regte rigting te maak. Ek praat van daardie een wat die bekende Amerkaanse skrywer Erwin McManus graag voor in sy boeke skryf: “Risk everything!” Ja, kom ons waag alles! Pleks van nog voorspoed, veiligheid en geluk kort ons geloof ook ‘n waagmoed-inspuiting.

Dit vra immers moed om te midde van ongeloof, selfsug en teenstand in die Here te glo. Dit kos dapperheid om op Christus se hakke te loop en Hom te vertrou wanneer jy ‘n veiliger en meer bekende koers wil inslaan. Maar as jy dit waag, verander jou geloof jou en ook alles rondom jou. Dit fokus jou geloof weg van jouself en jou sekerhede na die Here toe. Dit maak van jou ‘n dapperder en waagmoediger persoon.” (5)

Draers van die Lig

So, sien jý kans om waagmoedig te wees en hierdie boek aan te pak sonder ‘n inhoudsopgawe? Nie te weet wat môre en die dag daarna se temas is voordat jy nie daarby uitkom nie? Hier is ‘n paar voorbeelde van temas wat die “control freak” binne my gou-gou na gaan loer het:  Het jy al ‘n plan om die wêreld te verander? Wat jy weggee, maak jou ryk. Geen plek vir minderwaardigheid. Doen Christenskap.

Ek het nou so vinnig 5 temas uit die 200 genoem … en dit het reeds my belangstelling geprikkel. Ek haal ook iets aan uit die stukkie getiteld “Doen Christenskap”.

“Evangeline Booth se ouers was die stigters van die Heilsleër. Sy sê die volgende oor haar ouers: “Van kleins af het ek gesien hoe my ouers dag en nag liefde en hulp gee vir wie dit ook al nodig gehad het. Dit was nooit vir hulle nodig om een woord oor Christenskap vir my te verduidelik nie. Ek het dit daagliks in aksie gesien.”  God vra van jou om ook so te leef.” (151)

Die gebed onder aan bladsy 151 lees: “Here, maak my lewe ‘n voorbeeld vir ander. Maak my woorde min en laat my dade kliphard praat.”

My wens vir jou is: mag jou dade kliphard praat, want dit wat jý doen mag bepaal of ‘n ander persoon ook ‘n Christen wil wees of nie. Jy mag dalk die enigste Bybel wees wat daardie persoon vandag lees. Action do speak louder than words!

Boekenuus word gebring in samewerking met NB Uitgewers.

ISBN:   9780796322708 Epub ISBN:   9780796322739 Uitgewer:  Lux Verbi Datum Vrygestel:   Julie 2022 Prys (BTW ingesl.):  R 250,00 Formaat:   Sagteband, 208pp

Surene Esterhuizen – Happening News SA ©

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *