Boeke-nuus: Het ek my geloof verloor?

Pierre du Plessis skryf oor ons worstelinge met God, geloof en die kerk. Hierdie boek is ’n gids op jou geloofsreis. Dit is ’n uitnodiging om vrae te vra en te twyfel.

In ‘HET EK MY GELOOF VERLOOR’ vat Du Plessis die kwelvrae raak waarmee baie van ons worstel. Die twyfel en die wonder oor presies waar God is wanneer die koerantopskrifte terreur skree en die lewe meer as sweet uit ons tap. Wanneer boosheid en afgryslike dinge met goeie mense gebeur, betwyfel ons God se teenwoordigheid en wonder ons waarom Hy ons verlaat het.

Vir dié wat vervreemd voel van sy/haar kerk se manier van doen en dink, wie dalk voel daar is nie meer bevredigende antwoorde nie, neem ‘HET EK MY GELOOF VERLOOR?’ jou op ’n tog van geloofsverkenning. Pierre du Plessis wys ons dat daar verskeie maniere is om God en godsdiens te beleef.

“Al is ons dalk geleer dat dit verkeerd is om te twyfel, selfs vrae te vra, is twyfel die middel tot groei.” – Bl.22 –

In die voorwoord skryfTom Smith dat hierdie ’n: “… eietydse boek is om ons te begelei in ons worstelinge …” Pierre nooi ons uit om vrae te vra en saam met hom in die blaaie van die boek weer die wete te vind dat Hy daar is, dat Hy bestaan en ons oneindig lief het.

“My hoop is dat hierdie boek die kooltjie van jou geloof sal aanblaas, en dat dit selfs sal vlam vat, al is dit eers oor ‘n paar jaar.” – Pierre –

Die boek bestaan uit drie temas – God en ons prentjie van Hom, swaarkry wat kom knaag aan ons geloof en die Kerk met sy foute en ook die rol wat die kerk in geloof speel.

‘HET EK MY GELOOF VERLOOR?’ is uitgegee deur LUX VERBI,’n druknaam van NB-Uitgewers en is aanlyn sowel as by toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

ISBN: 978-0-7963-2281-4 

Boeke-nuus insamewerking met NB-Uitgewers

Annette Havenga Happening News SA ©

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *