Heinz en Aletté Winckler, is een van Suid-Afrika se glansrykste paartjies. Hulle is passievol daaroor om te sien dat huwelike nie net oorleef nie, maar floreer.
Met hierdie boek probeer hulle paartjies te bemagtig en bemoedig om hul ware identiteit in God te ontdek, om sodoende die beste moontlike huweliksmaat te kan word en wees. Hierdie boek gee duidelike goddelike riglyne vir paartjies wat jou net weereens laat besef dat ’n bestaan uit God, man en vrou.
Heinz en Aletté praat reguit, sonder om doekies om te draai oor die volgende onderwerpe: fondasies, bagasie, kommunikasie, seks en intimiteit, ouerskap, skoonouers en finansies.
Hulle deel ook grepe uit hulle eie verhaal om te verduidelik dat daar vir almal hoop is. Dit is duidelik dat alles nie altyd maanskyn en rose was nie, maar die Wincklers het van die begin af God se seën op hulle verhouding gehad en op grond daarvan maak hulle dit werk.
Ek sal nooit vergeet nie – ek het een oggend ’n praatjie van Aletté bygewoon en iets wat my altyd sal by bly wat sy gesê het was dat Heinz nooit sal toelaat dat een van die seuns sonder respek teenoor haar sal optree nie. Hy sal hulle aanspreek waar nodig en duidelik sê sy vrou word nie so behandel nie. Sy is altyd hulle ma, maar sy is éérstens sy vrou.
Omdat ek ’n woorde mens is, is een van die belangrikste hoofstukkie in die boek vir my oor kommunikasie. Mense vergeet dat mens nie net praat met jou woorde nie. ’n Mens se persoonlikheid, nie-verbale kommunikasie en dan natuurlik ook jou en jou maat se liefdestaal speel alles ’n rol in kommunikasie. As julle nie mekaar se liefdestaal verstaan nie, kan dit groot misverstande veroorsaak as jy steeds voel jy word nie gehoor nie.
Sommer net ‘n gedagte wat op kom – nog iets wat baie belangrik is in huwelike: kinders sien hoe hulle ouers teenoor mekaar optree. Mens moet bewus bly daarvan dat ons almal iemand se toekomstige man/vrou of pa/ma grootmaak.
Kom ons praat oor die huwelik is uitgegee deur Lux Verbi en is beskikbaar in alle boekwinkels. Indien dit nie op die rak is nie, vra gerus dat hulle dit vir jou bestel.
Boeke-nuus is moontlik gemaak deur NB-Uitgewers