Boeke-nuus: Martelize Brink maak kole-kos koningskos

Met Oor die kole se lip-lekker resepte, maak dit van elke kuier om die braaivleisvuur, ‘n okkasie. Van ‘n boere-ontbyt tot ‘n fynproewer-feesmaal met dekadente soetgoed, Oor die kole is ‘n 192 bladsy boek met mooi illustrasies en die resepte maak seker daar is ‘n lekkerte vir elke smaak.

Vir Martelize is braai soveel meer as steaks, boerewors en tjops. Natuurlik is die tradisionele goue gunstelinge almal daar: ploegskaar-brekfis, askoek, potbrood, mosbolle, skaapstertjies, Matie Brink se afvalpotjie, waterblommetjies, heuningwortels en malvapoeding. 


Martelize wys ons waarom dit so lekker is om te braai en kuier saam met vriende terwyl sy, met haar houtlepel in die pot. ‘n swetterjoel flambojante treffers optower. Van gerookte mieliepaptert, dieppot-pizza, kreefstertkerrie, calamarisosaties, seekossop en ketelbraai-snoek, tot eend met sjerrieglaseersel, varknek, lamsboud, koedoesteaks, selfs ‘n Latynse braaitafel met flentervarkskouer.


Nou ja, wat is ‘n feesmaal sonder die soete verleidings? Pastel de nata (met ‘n sweem van kardemom en kaneel), affogato, roomys met gerookte room, koekstruif met braaikoek en perskes, Siciliaanse lemoenkoek, en ‘n reënboog van lusmakers.


Verskillende tegnieke en metodes vir buitelugkos word ingespan: braai en rooster oor die kole (selfs in die as), swartpotte, ketelbraai en beroking. Naas wenke vir kopkrappers soos braaihout, temperatuurmeters, rookmetodes, die briket-slangmetode en soorte swartpotte kry jy ‘n warm dosis nostalgie in die vorm van Martelize se staaltjies en vertellings. Ware sielskos!

Oor die kole (ISBN 9780798182485) word uitgegee deur Human & Rosseau en is aanlyn en by toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

Boeke-nuus word gebring in samewerking met NB-Uitgewers

Annette Havenga – Happening News SA ©

Volg die skakel vir potgooi onderhoud met Martelize Brink

https://studio.youtube.com/video/ojlQBdEVSpI/edit

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *