Tussen angs en sekerheid deur Ferdinand Deist is top verkoper wat weer herdruk is, ’n bewys dat mense beslis ‘n behoefte het aan gebed.
Wanneer gebed iets is wat jy elke dag moet doen, ’n gesprek met die plafon of die vervelige herhaling van dieselfde woorde het die wonder van gebed vir jou verlore geraak. In hierdie heruitgawe van Ferdinand Deist se klassieke topverkoper boek oor gebed gesels hy met mense wat wil bid, maar nie kán nie.
Hierdie is geen kitskursus in die kuns van gebed nie, maar ‘n toeganklike sagte begeleiding vir elkeen om die geheim van gebed terug te vind.
DANA SNYMAN sê: “Tussen angs en sekerheid het vir my hoop gebring. Dit het my nie net geleer om na te dink oor ander mense en my verhouding met hulle nie, maar ook dat daar plek is vir twyfel by God, en dat oormatige sekerhede maklik die God misterie kan verdring.”
Wat het ek opgetel uit hierdie boek? Gebed hoef nie nét woorde te hê nie. Gebed is my gesprekke met God oor die alles en nog wat van elke dag. Gebed is ook waar ek my geliefdes voor God bring, waar ek myself voor God bring. Gebed is ook waar ek God prys en my dankbaarheid aan Hom bewys. Gebed is ook waar ek my vrese voor Sy voete kan lê. Gebed is my skakel met my Vader.
Tussen angs en sekerheid is uitgegee deur Lux Verbi en beskikbaar by alle boekwinkels. Indien dit nie op die rak is nie, vra gerus dat hulle dit vir jou bestel.
Boeke-nuus word moontlik gemaak deur NB Uitgewers