DIE SUID-AFRIKAANSE FILM ‘DIE PELSLOPER’ SAL BINNEKORT GRATIS WEES VIR KYKERS. REGISTREER OM DIE SKAKEL TE ONVANG.
Martyn le Roux is ’n welbekende skrywer en vervaardiger van radiodramas en films. ‘Pelsloper’ speel af diep in die Tankwa Karoo en is Martyn se breinkind. Hierdie produksie spog met verskeie toekennings. Op 13 Julie, ook volmaan en die regte aand vir ’n weerwolf storie soos Martyn skerts, sal die film beskikbaar wees vanaf 20:00 die aand vir vooraf geregstreerde belangstellendes.
Rillers en mitologie vir Martyn se pen
Martyn erken dat die genre van rillers, legendes, mitologie en stories met ’n gotiese agtergrond beslis sy gunsteling is.
“Ek is lief vir rillers en spookstories skryf, maar nie jou tipiese Frankenstein-stories nie.” -Marthyn-
Hy skryf egter ook komedie en drama soos die radio drama ‘Dryfhout’ wat nou beskikbaar is om te luister. Martyn gee weg dat ‘Dryfhout’ beslis jou hart gaan ruk.
Plaaslik is al Martyn se vorige werk, potgooie en so meer beskikbaar op die webtuiste. Martyn is ook die skrywer van RSG radio dramas soos ‘Volmaan’ en ‘Bloedmaan’. Tans is die 25-episode meermin mitologie-drama, ‘Die Soutwaterheks’ ook beskikbaar op die webtuiste en You Tube. Die beelde en illustrasies vir ‘Die Soutwaterheks’ is ook Martyn se eie werk.
Martyn hou daarvan dat sy produksies ’n element van egtheid moet dra en doen uitgebreide navorsing vir die produksies sodat mense moet wonder of dit nie dalk werklik is nie. Le Roux hou daarvan om onbekende talent ook geleenthede te gee. So kry hierdie see van ongelooflike, maar onbekende talent ook die geleentheid om hulle stemme en gesigte daar buite te kry. Sy inspirasie kry hy uit die elke dag se lewe en sy werkplek is die tuiste van selfs ‘Star Wars’ prente.
“… iets wat iemand sê of doen, of iets wat ek sien. Ek hou van geskiedkundige gebeure en interresante feite en bring dit graag in met die skryf. ” -Martyn-
Toekennings regoor die wêreld vir Pelsloper
‘Pelsloper’ is ’n produksie wat oor ’n tydperk van twee jaar plaasgevind het met ’n boomskraap begroting waarvoor Martyn maar self moes pa staan. Martyn is nie verniet trots op die tien toekennings en nominasies wat ‘Pelsloper’ in die buiteland ontvang het nie en sê dat dit ’n wonderlike gevoel is.
“Van die talent was rou talent en ons moes baie tyd aan hierdie mense spandeer. Die hoofrol is vertolk deur ‘n nuweling, Chantal Werth, en sy het drie toekennings as ‘Best Actress’ ontvang.” -Martyn-
Pelsloper se storie
Wanneer ’n paranormale ondersoeker en ‘celeb’ TV-man, George, daarvan te hore kom dat ’n uitgestorwe padda spesie nie uitgesterf het nie, maar in die Tankwa leef, besluit hy om ondersoek in te stel. Hy loop sy moses teë met ’n geelslang en word wakker in die hut van ’n beeldskone meisie. Maar iets iets is nie pluis met haar nie. Gaan Frans en Samantha ’n ‘happy ever after’ kry of gaan hulle liefdesverhaal in ’n tragedie eindig?
Die film kom met Engelse onderskrifte en moet verkieslik met ouer toesig gekyk word vir kykers onder die ouderdom van 13 jaar.
Volgende vir die baanbrekers Paragon Media
Martyn gee weg dat daar heelwat op die bord is vir die toekoms. Dit sluit radiodramas en films in. Binnekort begin die produksie van die Engelse film ‘The Twiglight Journey’ wat ook in die Tankwa afspeel. Hierdie film behoort teen die einde van die jaar beskikbaar te wees.
“Mense moet ons maar op Facebook volg en ons webtuiste besoek om op datum te bly. Ons plaas ook op Facebook advertensies vir oudisies vir toekomstige produksies.” -Martyn-
Volg die skakel vir ‘n kykie na ‘Pelsloper’: https://fb.watch/dVB-n-T0Sc/
Webtuiste Facebook SkrywersInk Facebook Paragon Media You Tube
Annette Havenga – Happening News SA ©