Die tragiese saak van Pamina Vermaak word ’n fliek

Die tragiese saak van Pamina Vermaak, geskryf deur die joernalis en skrywer Annie Klopper, het in 2018 verskyn (ISBN: 9780795608701) en was ‘n top verkoper. Nou gaan kykers hierdie romantiese komedie op hulle skerms kan sien. Die verfilming het reeds begin en die rolverdeling sluit jong talent en verskeie Suid-Afrikaanse legendes in.

Pamina Vermaak is ’n joernalis en ’n girl wat haar eie kop volg. Sy freak uit by die werk en sit skielik sonder ’n inkomste. Noodgedwonge moet sy druipstert en werkloos, terugkeer huis toe. Huis is op die klein Weskus dorp, Witwaterbaai. Pamina het elf jaar gelede gesweer die plek sou haar nooit weer sien nie. Dit, na ’n fiasko gebeur het. Haar pad kruis met die rock-ster, Wolf de Jager. Wolf skuil op Witwaterbaai van die paparazzi nadat steelfoto’s van sy verloofde, die aktrise Daniella du Toit, waar sy hom verneuk, uitgelek het.

’n Eiewyse joernalis, ’n rock-ster wat sy wonde lek  en die mooie Weskus met sy eiesoortige bekoring – dit gaan sorg dat die sparks vlieg.

Carla Smith (Tydelik terminaal, Ekstra medium, Troukoors) is te sien as Pamina Vermaak,

Christiaan Schoombie (Troukoors, Desert Rose, Binnelanders) is te sien as Wolf en ander spelers in die rolverdeling sluit in Anna-Mart van der Merwe, Lee-Ann van Rooi, Albert Pretorius en Duane Williams met kameeverskynings deur Hélène Truter, Rolanda Marais, André Roothman en Armand Aucamp.

Die regisseur is Kabous Meiring, wat, onder meer, as aanbieder van Prontuit op kykNET bekend is. Go2 Content, in samewerking met The Film Factory, is die vervaardigers met Kabous, Jaco Nothnagel en Danie Bester aan die stuur.

Die draaiboek is aanvanklik deur Elanie Rupping (Tydelik terminaal, Mense Mense, Sterlopers) geskryf en toe verder deur Bibi Slippers ontwikkel.

“Ek dink elke persoon se bydrae, klein of groot, maak hierdie draaiboek uniek en baie eerlik. Om nou die woorde in die akteurs se monde te hoor en met Kabous in haar element as regisseur, is die kersie op die koek.” – Jaco Nothnagel –

Jaco sê voorts dat hulle duim vashou dat die wind hulle nie wegwaai nie en dat hulle: “… sonbrandroom in grootmaat…” aankoop.

“Die dorpies se sjarme en asemrowende sonsondergange het ons almal se harte gesteel. Dit is die derde produksie wat Go2 Content buite die stad skiet en ek is weereens geroer deur die plaaslike gemeenskappe se gasvryheid en ondersteuning.” – Jaco –

Die tragiese saak van Pamina Vermaak word, onder meer, in Kaapstad, Velddrif, Laaiplek en St. Helenabaai verfilm. Die rolprent sal by die 2023 kykNET Silwerskermfees première en sal daarna op DStv BoxOffice beskikbaar wees.

Annette Havenga – Happening News SA ©

Bron: kykNET

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *