Die lank verwagte reeks, Dinge van ‘n kind, die verwerking van Marita van der Vyver se boek, Die dinge van ‘n kind, het uiteindelik vanaand begin op kanaal 144, kykNET.
Wat die reeks anders maak as die boek is dat hulle die hede ingewerk het by die reeks. Dit bring vir my beslis die storie nader daaraan dat dit by meer mense oor alle ouderdomme sal byval vind. Dit help natuurlik ook dat ‘n groot deel van die rolverdeling uit jong akteurs en aktrises bestaan, wat almal ongelooflike talent het.
Die storie gaan oor Mart Vermaak, en haar lewe word uitgebeeld vandat sy ‘n standerd 9 dogter (15 of 16) is tot en met hedendaagse Mart (62). Jong Mart moet koshuis toe gaan nadat haar prokureur-pa besluit het hy wil nou boer. In die eerste episode weet ons dat Mart gaan sukkel om aan te pas. Toe haar kamermaat, Dalena, opdaag het Mart dadelik aanklank gevind by haar. Dalena is so ‘n bietjie wild vir Mart, maar belowe vir Mart: “Stick with me, baby. Ek sal jou nie famous maak nie, maar jy sal fun hê langs die pad.”
Hedendaagse Mart moet daarmee deal dat haar enigste seun, Pierre, en sy vrou, Janine, London toe gaan. Mart wil nie hê dat hulle gaan nie en die kersie op die koek was natuurlik toe sy by haar eksman, Pierre se pa, uitvind van Pierre se bevordering na ‘n kantoor in London.
Daar is sporadiese terugflitse na Mart in die 90s toe sy en die jong Pierre in London gewoon het, waar sy besig is om ‘n brief te skryf. Mens wonder aan wie sy die brief skryf. Janine lees die een brief wat hulle in ‘n boks ontdek het met momentos van Pierre, en sy vermoed dat Pierre se pa dalk nie sy pa is nie.
Daar is ook die gesprek tussen Dalena en Mart nadat Dalena saam met die LO-juffrou se dish van ‘n broer in die stort gevang is. Hier sal ouers werklik maar eers self moet kyk en besluit of hulle tieners hierdie reeks ook kan kyk. Ek is nie seker van die ouderdomsbeperking nie, en alhoewel ek vermoed dat ons kinders vandag dalk heelwat meer weet as wat ons geweet het op dieselfde ouderdom, sal ek darem eers self wil besluit of my kind hierdie kan kyk of nie. Ek dink dit behoort ‘n ouderdomsbeperking van ten minste 16 te dra, maar dis dalk nog steeds ‘n bietjie jonk.
In een toneel sê Pierre Malan (Mart se vriend van skooldae) vir haar: “As dit nie vir sies was nie, was jy nie nou hier nie.” En dis hier waar mens besef: Maak nie saak wanneer jy ‘n tiener was nie, seker dinge en gesegdes bly maar dieselfde oor alle tye heen.
Ek wil nie te veel weggee van die eerste episode nie, want daar is nog heelwat mense wat dit verseker nog sal wil kyk op catch up. Wat ek wel wil sê is: dit is ‘n uitstekende verwerking van die boek. Die room van Suid-Afrikaanse akteurs en aktrises is deel van hierdie reeks, met ‘n klomp nuwelinge van wie ons nog baie gaan hoor. Kyk gerus uit vir my opvolg artikel waar ek ‘n vraag of drie aan van die akteurs vra.
Ek wil niemand uitsonder nie, want almal is uitmuntend. Ek wil wel sê: Mienke Ehlers as Dalena staan beslis vir my uit. In haar sien ek dieselfde potensiaal van ‘n Christia Visser. Iemand wat moeilike rolle met geloofwaardigheid sal kan vertolk. Ek sien beslis daarna uit om meer van Mienke te sien in die toekoms.
Ek het weer die boek gaan lees, en die reeks is beslis ‘n treffer met die bywerking van die hede. Dit voel vir my of dit die storie behoorlik gaan afrond. Ek kan nie wag om die res van die reeks te sien nie.