DIE DRAMA-REEKS VRA DIE TERGENDE VRAAG – HOE VER SAL EEN MAN GAAN OM ALLES TE KRY WAT HY WIL HÊ?
Op 13 September het die skitterende kykNET-dramareeks – Fraksie op DStv-kanaal 144 afgeskop. Fraksie is die werk van die skrywers en vervaardigers Louis Pretorius en Albert Snyman wat vir treffer-reekse soos Die Boekklub, Troukoors en Fynskrif verantwoordelik was. Dié twee is albei ewe in hulle skik met die rolverdeling. Met bekroonde spelers soos Edwin van der Walt, Marlo Minnaar, Trix Viviers, Crystal-Donna Roberts, Melt Sieberhagen, Roeline Daneel en Lee-Ann van Rooi, is die rolverdeling net so indrukwekkend as die reeks.
Schalk Smit, gespeel deur Edwin van der Walt, is ’n beleggingsbestuurder met drome om eendag ’n dollar-miljoenêr te word. Hy is getroud met Nina (Roeline Daneel) wie se ma, Deidré (Hélène Truter), uit ou geld kom. Nina se pa, Willem (André Jacobs), is ’n onkoloog en haar suster, Bianca (Daneel van der Walt), ’n narkotiseur. Schalk en Nina het twee tienerkinders, Zac (Alex van Dyk) en Mari (Jana Malan).

“Die hoofkarakter, Schalk Smit, is meer van ’n anti-held. Alhoewel dit met tye nie maklik is om van die karakters te hou nie, hoop en glo ek kykers gaan nie anders kan as om van hulle te hou nie. Die reeks speel af in Stellenbosch wat met sy geskiedenis en ou geld deesdae die tegnologiese hoofstad van Suid-Afrika is.” -Louis-
Tim (Marlo Minnaar) is ’n dosent in rekenaarwetenskap in Pretoria en is onlangs met Chantel (Crystal Donna Roberts) getroud. Hy het in sy vrye tyd die QPI (Quick Payment Interface) ontwikkel en is op soek na ’n belegger daarvoor.
Jana (Trix Viviers) is ’n kommersiële prokureur en was saam met Schalk en Tim op skool. Sy het ses maande tevore Stellenbosch toe getrek en haar man, Alwyn (Sean Marco Vorster), en dogter, Emmy (Rizane Rossouw), in Johannesburg agtergelaat. In Stellenbosch ontmoet Jana egter vir Jack (Duane Williams) wat probleme in haar en Alwyn se huwelik veroorsaak.
Ander spelers in die reeks is Melt Sieberhagen as Henk, ‘n IT-spealis met ’n moeilike verlede, en Brendon Daniels as Donovan, ’n geleentheidsbeplanner en Henk se huismaat. Ilse Klink is Judy, Chantal se ma, en Gerwen Simon is Anél, haar suster. Ook te sien is Natalia Da Rocha as Jack se ouma, Lee-Ann van Rooi en Pierre van Pletzen as Schalk se baas by T&M Holdings en Hendrik Nieuwoudt as Henk se seun, JP.
Louis sê dat elkeen van die karakters hulle eie lewe gekry soos die reeks ontwikkel het en dat kwessies soos: “… tweede kanse, kinders en hulle verhouding met hulle ouers en die uitdagings in huwelike” aangeraak word.
Die reeks bestaan uit sewentien episodes.
“Die episodes word aaneen uitgesaai, maar is as’t ware twee mini-reekse. Die eerste agt episodes wys hoe QPI opgebou word en die laaste nege wys hoe dit, én die mense betrokke, verder ontwikkel.” -Louis-
Louis glo en hoop dat kykers die reeks net soveel gaan geniet as wat hulle het met die maak daarvan.
Fraksie word vanaf Dinsdae aande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) uitgesaai.
Annette Havenga – Happening News ©
Bron: kykNET