Paradise Park Karavaan Park in die Overberg Hermanus, eens ‘n gewilde kampeerterrein en ook tuiste vir baie, is gewikkel in ‘n stryd om bestaan.
‘n Hofbevel, ‘n lywige 45 bladsye dokument, gedateer 20 April 2022, beveel die ontruiming van huishoudings vanaf die Paradise Park perseel en gee inwoners drie maande vanaf datum tyd om ander heenkome te vind. Kontak gerus vir Happening News op info@happeningnews.co.za of besoek ons op Facebook indien jy die hofbevel wil besigtig.
Vakansie tot vakant
Wat eens ‘n bekende en besige vakansieoord was, staan nou stil onder ‘n vlaag van kommer en onsekerheid. Waar eens ‘n swembad en waterwurm was, is nou net ‘n hoop rommel. Die swembad is opgevul, die klubhuis en ablusie blokke platgestoot. Die enigste tekens van ‘n tyd van vakansiegangers, kinderstemme en son-pret is nou net herinneringe.
Daar is geen munispale dienste meer nie en tekens van verval is duidelik. Baie van die wonings is reeds ontruim, plotte wat eens karavaan en aangeboude huisies gehad het, staan kaal tussen die paar bewoonde wonings wat oor is.
Geen ander heenkome
Hierdie vakansie bestemming het ontwikkel in ‘n lae-koste behuising perseel. Linda de Bod woon al sedert 1986 in die park en wonder, nes die meeste van die ander inwoners, waar sy heen sal gaan. Hierdie is haar huis, waar sy haar lewe gebou het, waar sy dit kon bekostig om te woon. Linda vertel dat hulle geweet het iets is fout toe mense kom rondstap in die park.
“Ons het gewonder wat gaan aan toe die ‘suits’ hier kom rondloop het, sommer so bondel bymekaar. Niemand het ons enige antwoorde gegee nie.” – Linda de Bod-
Dieselfde lot
Opnuut bring die De Mond karavaanpark sage herinneringe op.
In 2005 het die De Mond karavaan park dieselfde lot gehad toe die karavaanpark ook moes ontruim. Met geen water en elektristeit was die laaste persoon op die perseel ‘n 80-jarige dame. Ons kon egter nie bevestig wat van haar geword het nie.
Na 17 jaar is daar steeds geen ontwikkeling hier nie en ook hier is daar verwalle tekens van wat eens ‘n wel bewoonde karavaanpark en vakansie oord was.
Die vrae en die stille oorlog
In teenstelling met die ontwikkelaar se verklaring, beweer inwoners dat daar maar min kommunikasie met hulle was rakende die uitsetting. Volgens die ontwikkelaar spruit probleme hier al voort van 2010 tussen die inwoners, die vorige eienaar en die plaaslike Munisipaliteit. Dit het tot gevolg gehad dat die vorige eienaar tariewe moes verhoog. Volgens verklarings het die meerderheid van die inwoners versuim om die verhogings te betaal. Die eienaar, Raymond Schonengevel, is uiteindelik met geen ander keuse gelaat as om die perseel te verkoop nie. Schonengevel is oorlede voordat hy in die Hof kon getuig.
Baie van die inwoners is pensionarisse, werkloos of verdien ‘n lae inkomste.
Volgens ‘n persverklaring, uitgereik deur die ontwikkelaar, het die Hof die wetlikheid van die inwoners ondersoek en bevind dat die perseel onwettig bewoon word. Verder is daar bevind dat slegs 40% van die inwoners hier nie ander heenkome kan bekostig nie.
Vals hoop of ‘n tikkie son?
Ace Mahusahule het tydens sy politieke veldtog in 2019 die park besoek en aan die inwoners die belofte gemaak dat hulle nie sonder heenkome sal wees nie en dat die regering die uitsetting sal help beveg. Ten spyte daarvan is die uitsettingsbevel toegestaan.
Op Vryheidsdag 27 April 2022 het Masizole Mnqasela, die DA-hoof van die kiesafdeling van die Overstrand, die 300 inwoners van Paradisepark toegespreek en gesê dat inwoners nie baie van die regering vra nie.
“… net om beskerm te word teen uitsetting, want hulle het nêrens om te gaan nie.” -Masizole Mngasela-
Hy het verder gesê dat die DA sy gesag moet gebruik om die mense te beskerm.
Ook Cameron Dugmore, die leier van die die ANC in die Overstrand, het by monde van ‘n brief aangevoer dat hulle hande wil neem met verskillende rolspelers om die kwessie op te los.
Vir die Paradise Park inwoners beteken dit ‘n grasietyd aangesien die uitsetting nie uitgevoer kan word solank as wat onderhandelinge onderweg is nie.
Opsies
Volgens Dugmore is die eerste opsie om as regering met die ontwikkelaar te praat om sodoende die grond te koop sodat die inwoners daar kan aanbly en sodoende dan ook ander bykomende behuising te verskaf.
Die ander opsie, volgens Dugmore, is om ingevolge die Wet op Onteiening op te tree. ‘n Vergadering tussen die Behuisingsvereniging en die inwoners word hierdie maand beplan om hierdie opsie te oorweeg.
Dugmore lê klem daarop: “… [dat dit] belangrik is dat al die verskillende partye saam moet werk om dit te bekom.”
Inwoners se lot en die ontwikkelaar se droom
Wie is reg? Wie het oortree en wat is die waarheid? Tussen oor-en-weer beskuldigings, hofsake en polsende vrae is ‘n groep mense wat binnekort sonder ‘n tuiste gaan wees. Die mense van Paradise Park lewe in vrees en kommer, die ontwikkelaar staan op sy reg, en in die middel is mense se elke dag en ‘n ander een se groter prentjie.
Hoe dit ookal sy, dit is moeilik om nie simpatie met die mense van Paradadise Park te hê nie. Hulle seer lê vlak terwyl die realitiet van die situasie elke dag meer sigbaar en onafwendbaar word.
Die lot van die sowat 285 Paradise Park huishoudings is roerend, terwyl die ontwikkelaar se verweer wetlik is. Maar die vrae maal – Gaan hulle bly? Waar gaan hulle heen?
Tussen die lot van mense en vooruitgang hang die vraag – Wie se saak gaan uiteindelik die skaal laat tip?
Verskeie Bronne: Hermanus Times / Sosiale Media / Onderhoud met Paradise Park inwoner https://t.co/RVjaMI9KEX / Sable Cape Developments (bekend as Die Ontwikkelaar)
Ek het vir meer as 40 jaar n struktuur op n plot in die Park. Wonderlike vakansies met my gesin hier deurgebring.
Ek was altyd bewus van die feit dat die grond nie myne was nie.
Die eienaar het egter oor die jare die mense toegelaat om permanent daar te kan woon.
Hulle het selfs die koop en verkoop van strukture gefasiliteer.
Dit is hier waar die probleme ontstaan het daar is aan mense mondeling gesè dat hulle permanent daar kan bly .
Ek het persoonlik met Mr Scoonegevel hieroor gesels. Toe ek verbeteringe aan my struktuur wou aanbring het Mr Scoonegevel toestemming gegee en alle verbeteringe aan my perseel was met sy toestemming gedoen.
Hulle Mr Scoonegevel en sy dogter Helen wat later die kantoor bedryf het was in my mening die oorsaak dat die park vandag met n probleem sit.
Ek was bewus dat daar deur die jare baie onderhandelinge was tussen Mr Scoonegevel en die plaaslike overheid, maar ons as individiè was nooit ingelig nie.
Daar is wel later n huiseienaars organisasie gestig om met die eienaars te onderhander.
Hier was blykbaar baie koppe gestamp oor onderandere huur ens.
Een ding wat my egter verbaas is dat die persele wat daar tans is nooit as onwettig deur die plaaslike overheid gesien is nie.
Indien die plaaslike overheid hulle werk gedoen het en die eienaar verbied het om mense permanent daar te laat woon sal hierdie situasie wat nou heers nooit onstaan het nie.
In my opinie is Mr Scoonegevel en die plaaslike overheid die grootste rede waarom daar nou gesit word met hierdie probleem.
Die verkoop van die park moes nooit toegelaat geword het nie, beslis nie voordat die nuwe eienaars nie die geskiedenis van die bestaan van die park geken het nie.
Ek en andere het oor die jare met die toestemming van die park bestuur verbeteringe aan ons strukture aangebring met die oog daarop om hier te kom aftree want volgens Mr Scoonegevel en die bestuur was daar beslis n goeie kans dat ons die plot waarop ons strutuur is sou kon koop.
Daar was op n stadium opmetings gedoen en rioolering aangebring wat n voorloper was van die plan om die persele aan die bewoners te verkoop.
Daar was selfs vergaderings gehou waar detail bespreek was.
Tot meeste van ons se verbasing het het ons net eendag gerigte gehoor dat die park verkoop is en dat ons kennis gaan kry om alles waarvoor ons al die jare gewerk het en n kapitale uitleg gemaak het gaan verloor.
Ek voel dit is baie onregverdig dat ek en baie ander elke maand getrou ons huur betaal nou alles gaan verloor.