Le Roux broers weer saam na Edik van Nantes in nuwe avontuur

Die geliefde Nataniël en Erik Le Roux keer terug na ons skerms met ’n splinternuwe reeks, Nataniël. Erik. Wolf. wat op Sondag 16 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, afskop.

Kospotte, kuns, geskiedenis en skoonheid bly herkenbare elemente, maar hierdie keer word ’n wêreld van fantasie, boosheid, goedheid, wreedheid en redding ontdek.

Nataniël het al menigte van sy projekte begin ná ’n ontdekking op die boekrak. Hierdie keer was dit ’n vergete houer vol illustrasies deur die Franse kunstenaar Gustave Doré (1832 – 1883). Dié heerlike sketse het gelei tot Nataniël se herontdekking van al die sprokies waarmee kinders wêreldwyd grootgemaak word, asook die behoefte om die oorspronklike weergawes – onveranderd deur kommersiële uitgewers of filmmakers – op te spoor.

“Daar is ’n fyn lyn tussen skoonheid, geweld en wreedheid in kuns, veral Europese kuns,” sê Nataniël.  Hy het beslis ’n passie vir geskiedenis.

“Geskiedenis is gebou op die wêreld, die magtiges, die kerke en die konings se wreedheid. Dis skokkend dat die samelewing tot vandag toe niks geleer het daaruit nie.” – Nataniël –

Hy gaan voort om te sê dat hierdie reeks verhale as oorspronklike inspirasie gedien het vir hierdie reeks. Die fantasie van “… verhale wat honderde jare gelede geskryf is as lewenslesse en waarskuwings, toe eenvoudig afgewater is en steeds as kinderstories aangebied word.” – Nataniël –

Erik sê dat die alledaagse stories wat ons van kindsbeen af ken, skokkend, verbasend, leersaam en ver verwyderd is van die hedendaagse weergawes.

“Die alledaagse sprokies waarop ons gespeen word is inderdaad aangepas, geslyp en geskaaf om ’n moderne aptyt te vul.” – Erik –

Uiteindelik is ontwerpers en beeldende kunstenaars – Suid-Afrikaans en Europees – gevra om betrokke te raak en so is Nataniël en sy span vir die eerste keer in drie jaar terug na Nantes, Frankryk.

Hierdie keer het Erik ’n eeue-oue werkswinkel op die gronde van ’n eksentrieke herehuis opgespoor en tussen die bome van ’n groen woud is ’n nuwe reeks vir die kassie gebore. Dit is vir beide die broers belangrik om aanklank te vind by die mense, hulle openheid en om tuis te voel. Sonder om veel weg te gee sê Erik dat die verfilming by die herehuis “… soos ’n sprokie” was.

“Vir ’n Franse familie om ons toe te laat om te kom en gaan soos ons wil vir 5 weke is verstommend gaaf, soos in ’n sprokie.” – Erik – .

Nataniël is ’n romantikus en sê dit weerspieël op elke moontlike vlak van sy lewe en dat die lewe sonder romantiek “… doodgewoon, vaal en voorspelbaar” is. Dit is dus geen verrassing dat kos, kuns, ontwerp, boeke, stories en baie musiek die basisvorm van hierdie 13-episode reeks. Die Steinway-pianis Charl du Plessis het by die groep aangesluit en is in talle episodes (en situasies!) te siene. Oorspronklike musiek deur Nataniël is omskep in ’n opwindende en atmosferiese klankbaan en die twee broers hoop dat kykers sal ontspan, saam lag, saam kook, saam reis, saam ontdek, vrae vra, kwessies aanspreek, inspirasie vind, meegevoer word en vir ’n paar maande elke week met vreugde begin.

Nataniël. Erik. Wolf. begin Sondag 16 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

Annette Havenga – Happening News ©

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *