Suid-Afrikaanse wyn vier op 2 Februarie 2023 die belangrikste datum in die wyn industrie se geskiedenis – die 364ste wyn-oes verjaarsdag.
Op 2 Februarie 1659 maak Jan van Riebeeck ’n inskrywing in sy dagboek en merk só die geboorte van die wyn industrie in Suid-Afrika.
“Vandag, prys aan God, was wyn vir die eerste keer gemaak van die Kaapse druif.” -Jan van Riebeeck-
Hierdie dag word steeds, 364 jaar later, gevier en is bekend as die dag waarop die besigheid sentrum, wyn produsente, sosiale drinkers, wynkenners, die wyn-proeër, restaurant eienaars, versamelaars en verkopers landswyd die begin van Suid-Afrika se wynbedryf vier.

Happening News SA het met Dr Ernest Messina, direksielid en voorsitter van die Groot Constantia Trust gesels. Dr Messina betree hierdie jaar sy 20ste jaar as direksielid en volstaan die pos as voorsitter alreeds vir 15 jaar. Dr Messina beskou sy verteenwoordiging as ’n voorreg.
“Dis ’n uitsonderlike eer en voorreg om op hierdie manier tot diens van die bedryf en Suid Afrika te wees saam met my mede-direkteure, ons bestuurspan onder leiding van Jean Naude asook al ons werkers, vennote, en ondersteuners.” -Dr. Ernest Messina-
Dr Messina vertel voorts dat sy eerste werklike kennismaking in die persoonlike gebruik van wyn in 2003 was, die jaar toe hy as direksielid van Die Groot Constantia Trust aangestel is. Alhoewel hy ’n groot voorliefde vir Groot Constantia se wyne het, sê hy dat die meeste van ons wynstreke wyne van uitstaande gehalte produseer. Hy beskryf die wynmaak proses as: “ ’n wonderlike ervaring en belewenis om die verskillende wyne te kan proe en te geniet, en die harde werk en toewyding te ervaar van almal vanaf die grond, wingerd, druiwe korrels en die maak van die wyn tot in die bottel en glas.”
Die besonderheid van die Groot Constantia Landgoed, ook gasheer van die jaarlikse vieringe, word beklemtoon deur die internasionale akkreditasie wat hierdie geskiedkundige landgoed ontvang. Groot Constantia se Sauvignon Blanc is as die beste in die wêreld aangewys by die 2020 ‘International Wine Challenge’ kompetisie. Dr Messina vertel dat Groot Constantia gekompeteer het teen onder meer Frankryk, Nieu Seeland en Australië.

“Dit was die eerste keer dat die toekenning gemaak is aan ’n wyn wat nie uit Frankryk of Nieu Seeland bekroon is nie.” -Dr Ernest Messina-
Dr Messina sal graag wil sien dat daar meer navorsing plaasvind oor Suid-Afrika se wyn erfenis en wyn geskiedenis en sê dat só ‘n projek groter insig, begrip en waardering sal bevorder. Die direksie en bestuur van Die Groot ConstantiaTrust is dit eens dat, vir Suid-Afrika om werklik sy plek vol te staan in die internasionale wynbedryf, daar wel veranderinge nodig is.

Dr. Messina sal graag wil sien dat daar meer navorsing gedoen moet word om die industrie te groei en sê dat universiteite en ander herinstellings ’n sleutelrol het om te vervul en dat: “… as ’n bedryf moet ons in alle opsigte behoorlik toegerus wees.”
Hy maan dat groter samehorigheid in die bedryf onder alle rolspelers nodig is en dat enige verdeeldheid die Suid-Afrikaanse industrie swakker of minder gedug maak teenoor die res van die globale wynbedryf. Verder wil Dr. Messina graag groter erkentlikheid aan, en, gepaardgaande trots, op alle bydraes tot die sukses van die wynbedryf, klein en groot, tot nou, sien.
“Groter eienaarskap van agtergestelde groepe. Eienaarskap bevorder selfversekerdheid en waardigheid. Groter en sterker gemeenskaplike internasionale mededingendheid.” -Dr. Messina-
Dr. Messina se visie vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf is verder een waar suksesvolle wyn ondernemings in elke opsig, finansieel, ten opsigte van ons omgewing as ook strategies, kan volhou om by te dra tot mense se suksesvolle en volhoubare voortbestaan.
Dr. Messina is gaande oor kos en skerts dat sy lys van gunsteling disse nogal lank, maar nietemin smaaklik, dog eenvoudige, kos is.
“As ek gedwing moet word om te kies dan is Weskus kreefslaai of gebakte kreefsterte moeilik om te klop! Maar ja, eend is ook ’n groot gunsteling en wat is lekkerder as ’n stuk gebakte of gebraaide snoek met patat in die winter!” -Dr. Messina-
Dit is vanjaar twintig jaar sedert Dr. Messina se internasionaal bekroonde resepteboek ‘Weskuskos’ gepubliseer is en daar is beslis ’n plan om ten minste die boek op te dateer en weer te publiseer en hy vertel trots dat dit: “… beslis ’n stukkie Africana is en verdien dus om die jonger geslag van nog ’n prag deel van ons land bloot te stel.”
Suid-Afrikaners kan hierdie geskiedkundige geleentheid saam vier deur haar of hom daartoe te verbind om die dag, en inderdaad die hele maand van Februarie, op verskeie maniere te vier en die dag te gedenk: “… met vriende, kollegas, werknemers en werkgewers, kliënte, en, ook sommer met enigiemand met wie julle lekker saam kan kuier.”

’n Glansryke geleentheid wat beloof om kleurvol, stylvol, waardig, gesellig en trots Suid-Afrikaans te wees, vind op 2 Februarie by Die Groot Constantia Landgoed plaas.
“Aanwesiges sal weereens tot diepe nadenke gestem word aangaande ons ryke geskiedenis, gehalte vermaak, geurige Kaapse kosse, nuwe vriende te maak, te kuier met bekendes en lang verbintenisse en, nog ’n poging om ons as wynbedryf saam te bind deur een gemeenskaplike oorsprong en een gedeelde toekoms te help skep – in ‘n bedryf wat aan almal behoort en dus ondersteun en gekoester behoort te word – in die beste belang van almal.” -Dr. Messina-
Vir Suid-Afrikaners wie nie die geleentheid kan bywoon nie, is daar ’n gratis, aanlyn opsie deur die skakel te volg op 2 Februarie 2023 om 21:00: www.sawineharvest.co.za
“Selfs voor die tyd kan mede Suid-Afrikaners ’n gevoel kry van vorige jare se luisterryke geleenthede as ook op 2 Februarie deur aanlyn te gaan.” -Dr. Messina-
Met vindingryke en passievolle mense soos Dr. Ernest Messina aan die stuur van Die Groot Constantia Trust, lyk die toekoms vir Suid-Afrikaanse wyne net so helder soos die ryke en trotse geskiedenis.
Deel jou vieringe van SA Wyne se verjaarsdag op sosiale media met @sawinharvest en gebruik die hutsmerk – #HappyBirthdaySAwine.
Annette Havenga – Happening News SA ©