MARINDA KOOK MET BLIKKIES EN PAKKIES VIR DIE GEWONE MAN OP STRAAT

Marinda Engelbrecht en haar goeie vriendin en TV/media persoonlikheid Ingrid Jones het met pittige en op-die-man-af opmerkings gesels oor Marinda se splinternuwe kookboek ‘MARINDA KOOK met Blikkies en PAKKIES’. Marinda was, soos gewoonlik, keurig geklee en het dieselfde kleurskema as haar boek se omslag gedra.

Die bekendstelling het op Donderdag, 16 Maart by die Exclusive Books tak in Tygervallei Winkelsentrum plaasgevind. Gaste is met ‘n 2023 oesjaar wyn van Diemersdal  en heerlike versnaperinge, uit die kookboek natuurlik, bederf.

Topverkoper – WOW!

Is blikkies en pakkies ‘arm-mans-kos’? Marinda sê nee en spreek die kos puriste aan.

“Hoekom wil jy die wiel her-ontwerp? Blikkies en pakkies spaar tyd, is bekostigbaar en jy verloor ook nie op die voedingswaarde nie.” – Marinda –

Elke resep is ewe tuis in die mikrogolf en lug braaier en die boek spog met 90 maklike resepte met bestandele wat ewe maklik beskikbaar is, of dalk reeds in jou spens of koskas is. Marinda plaas ook klem daarop dat, om met blikkies en pakkies te kook, nie vaal hoef te wees nie, en sê dit kan heerlik en fleurig wees. Die resepte neem van 15min tot 30min om voor te berei.

                “… natuurlik as iets moet stol in die yskas kan die langer neem.” – Marinda –

Vir Marinda is kos maak ‘n tweede natuur en sy het groot geword op ‘n plaas waar haar Ma gedurig aan die bak was. Sy het nostalgies die rye gebakte brode onthou.  Haar eie reis as kook-persoonlikheid het 11-jaar gelede begin met ‘n ‘Kokkedoor’ inskrywing. Marinda is ewe tuis in die teater wat, naas kos maak, haar ander groot passie is.

                “Teater is voedsel vir die siel en kos is voedsel vir die liggaam.” – Marinda –

Selfs ‘n kos fundie soos Marinda het haar eie gunsteling dis of twee en sê dat bobotie en ‘begrafnis broodjies’, veral “… ‘n lekker komkommer- of eier en mayonnaise broodjie” vir haar lekker is.

Elizna, Annette, Marinda & Surene

Marinda het ook haar uitgewers span, NB Uitgewers en borge bedank.

“Hulle is soos familie en weet wat ek wil hê.  Ons werk nou saam en ‘n goeie span is uiters belangrik.” – Marinda –

Marinda spog met meer as 54 brilrame en het die span by Spectacle World bedank vir die diens en kwaliteit wat sy van hulle ontvang.

SWIER is bekend vir hulle unieke geskenke en dekor en het ook drie pragtige voorskote geskenk wat Marinda as geskenke aan lede van die gehoor kon gee.

Marinda geniet ‘n glasie witwyn

Diemersdal se wyn het geskitter en die splinternuwe Diemersdal Sauvignon Blanc 2023, asook hul Cabernet Merlot, was ‘n gunsteling onder die gaste. Dat sy self graag met wyn kook, het Marinda ook genoem en raad gegee dat ‘n resep sommer met die wyn moet begin.

Die kookboek is ‘n versameling eenvoudige, mooi geïllustreerde resepte wat deeglik beproef en geproe is. Marinda sê dat sy baie keer ‘n boek skryf met haar kinders en kleinkinders in gedagte en dat haar fokus op die gewone mens is en dat selfs studente kan baat vind by hierdie kookboek.

‘MARINDA KOOK met BLIKKIES en PAKKIES’ is aanlyn en by toonaangewende boekwinkels beskikbaar en spog ook met ‘n prys wat elkeen kan bekostig. Besoek ook gerus Marinda se webtuiste vir gratis resepte: https://marindakook.co.za/

ISBN: 978-0-7981-8296-6

Foto krediete: Eben Pienaar, NB Uitgewers

Annette Havenga – Happening News SA ©

In samewerking met NB-Uitgewers                                                                https://www.facebook.com/NBPublishers/

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *