Resensie – Die goeie pa

DIE GOEIE PA KOM MET ‘N ‘TRIGGER WARNING’ – “STRONG LANGUAGE AND REFERENCE TO SEXUAL ABUSE”, LUI DIE KENNISGEWING. WAT DIE KENNISGEWING NIE NOEM NIE IS DAT DIT OOK ‘N EMOSIONELE PRODUKSIE IS, EEN WAT JOU NIE ONAANGERAAK SAL LAAT NIE.

Gebaseer op ware gebeure en herskryf vir die Suid-Afrikaanse gehoor is ‘Die Goeie Pa’ die verhaal van geheime agter geslote deure en ‘n gesin se tragiese verlede.

                Drie karakters, een uitmuntende vertolking in ‘n emosie-belaaide vertoning

Die aktrise, fyn van postuur, dwing ‘n groot teenwoordigheid op die verhoog af. Asof ‘n een-vrou vertoning nie genoeg van ‘n uitdaging is nie, slaag Erika Marais daarin om uit die een karakter se skoene in die ander en nog ‘n ander te klim. Haar vertolking van elkeen, Diaan, Karla en Susan is telkens raak en verbysterend eg. Die gehoor kan duidelik die atmosfeer voel verander soos Erika karakters wissel. Erika sê dat sy wel “… vir Diaan die meeste voel.”

Ten spyte van die diep emosie is daar oomblikke wat jou dwing tot ‘n glimlag, maar met die erns nie ver uit jou gedagtes en ‘n amper skuldgevoel wanneer jy wel wil lag.

Photo Credit: Jeremeo le Cordeur

                Alleen om voor te berei

Erika sê dat sy wel diep moet delf vir haar voorbereiding en nog steeds senuweeagtig raak voor elke optrede.

“… maar die adrenalien neem gou oor. Ek moet tyd alleen neem voor die vertoning om emosioneel op die regte plek te kom.” – Erika –

Erika is ook genomineer vir ‘n Fleur de Cap toekenning as ‘Beste Aktrise’ vir haar vertolking van Eleanor Kasrils in die produksie ‘The Unlikely Secret Agent’ wat in die 1960’s afspeel  en gaan voort om te sê: “… dit is nou my tyd.”

Paul du Toit is ook benoem vir ‘n Fleur de Cap toekenning vir sy werk as beste regisseur en akteur van dieselfde produksie en het met die toekenning as beste Regisseur (2022) weggestap.

                Herskryf vir die Suid-Afrikaanse gehoor

Die akteur, regisseur en skrywer, Paul du Toit het die vertaling, verwerking en vervaardiging vir die teater van die teks behartig. Hy sê dat die skrywer van The Good Dad hom baie vryheid gegee het met die verwerking van die oorspronklike skrewe.

“Die statistieke is so effens afgeskaal. Dit is ‘n ware gebeurtenis wat Engeland geruk het en dit was eintlik ‘n sielkundige wat die skrywer aangespoor het om die gebeure neer te pen.” – Paul –

Du Toit sê ook dat die skrywer oorspronklik Suid-Afrikaans is maar die afgelope 30+ jaar in Engeland woonagtig is.

               Verhoog, klank, ligte en aksie

Die beligting vir ‘Die Goeie Pa’ word behartig deur Wicus Louw en die klank deur Jahn Beukes en beide kwyt hulself uitstekend van die taak. Die beligting en klank dra by tot die effek van die vertelling en voer die gehoor saam met die aktrise op haar reis en die ontwikkeling van elke karakter saam met die vertelling.

                The Drama Factory ‘n ‘hidden gem’ in the Helderberg

The Drama Factory sal jou aangenaam verras. Dit is verseker ‘n verskuiwing van wat jy as ‘n tradisionele teater beskou maar vou jou gou toe in ‘n welkome gevoel van die tuiste van verhoog en kuns.

Dit is maklik om te sien waarom The Drama Factory met ‘n lys van gereelde besoekers spog en produksies soos ‘Die Goeie Pa’ en vele ander, hierdie teater as gesog vind.

                Vertonings tot 3 Julie

Met openingsaand, 28 Junie, agter die rug, lê daar nog sewe vertonings tot Sondag 3 Julie voor. Saterdag 2 Julie en Sondag 3 Julie bied middag vertonings ook. BESPREEK HIER!

Die produksie span het groot drome vir ‘Die Goeie Pa’ en hoop om dit ook na Aardklop, Woordfees en KKNK te neem.

‘Die Goeie Pa’ is ‘n moet-sien produksie, hetsy jy ‘n liefde vir teater het of nie. Dit was ‘n voorreg om die openingsaand by te woon en die merkwaardige talent van elkeen van die produksiespan te ervaar. ‘Die Goeie Pa’ is geskryf deur Gail Louw. Fotograaf vir Die Goeie Pa is Jeremeo le Cordeur.

Annette Havenga

Happening News SA ©

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *