Verskeie opspraakwekkende moorde het die afgelope twee dekades die mooie Stellenbosch geruk. Dié Bolandse dorp is hoofsaaklik bekend vir wyn, die skatrykes, ‘n Afrikaanse gemeenskap en suksesvolle mense. Maar wanneer Julian Jansen kyk na die hoëprofielmoorde van die afgelope 20 jaar, vertel dit ‘n ander storie. Een wat hierdie skrywer en bekroonde ondersoekende joernalis met ons deel in sy nuutste nie-fiksie boek – ‘Moord op Stellenbosch’
Waarom juis Stellenbosch as tema?
Julian vertel dat dié idilliese idee van Stellenbosch in die Boland skuil onder ‘n dekmantel van hebsug, verraad, jaloesie. Die hoëprofielmoorde haal die land se voorblaaie en trek aandag, sê Julian.
“Daar is egter die gros moordenaars wat uit toksiese omgewings kom en wat gekenmerk word deur armoede, werkloosheid, insigloosheid, afwesige pa’s, bendebedrywighede en bloot wetteloosheid.” -Julian-
Julian word ook geïnspireer deur die teenkant: die veerkragtigheid en seëvier van die menslike gees.
“Sulke moorde trek groot aandag, nie net landwyd nie, maar internasionaal, want baie oud-studente/alumni woon regoor die land en die wêreld. Dus wat op Stellenbosch gebeur ís op die minste nasionaal van belang. Vir my was dit egter belangrik om ook te vertel en illustreer deur twee ewe hartroerende misdaadverhale, dié van die plaaswerker Felicity Cilliers en die biltongverkoper Charmelin Davids, dat bruin slagoffers van misdaad óók saak maak, dat hulle lewens hoe eenvoudig ook al, ook belangrik was. Hul stories het ten minste ‘n poniekoerant of die Eikestadnuus gehaal.” -Julian-
Jansen is verseker besig om vir homself ‘n goeie reputasie as krimi skrywer te vestig, iets wat hy wel graag wil doen. Julian sê voorts dat hy beide gefassineer en geskok word deur die boosheid wat daar in mense skuil, veral wanneer die: “… beskuldigde en moordenaar uit die binnekring van die slagoffer kom.”
Seer herinneringe
Die moord opCharmelin Davids het vir Julian uitgestaan. Sy het hom aan sy oorlede vrou herinner: “die mollige getroude vroutjie, wat met haar gesondheid gesukkel het, wat lief was vir mooi klere, geliefdes bederf en baie lag.” Hy beskryf haar as ‘n lieflingmens en iemand baie na aan haar het verraad teenoor haar gepleeg.
Fiksie en meer boeke vir Julian
Julian Jansen is ewe bekend en bekwaam as skrywer en joernalis. Hy is die skrywer van die topverkoperboeke – ‘Die De Zalzemoorde’ en ‘Seuns sonder pa’s’. Hy hoop om oor die volgende twee jaar sy joernalistieke loopbaan en nuusverslaggewing vaarwel te roep.
“Ek sal dan vryskutwerk vir koerante en tydskrifte doen en grotendeels my toelê op die skryf van boeke.” -Julian-
Julian gesels verder dat hy graag sy hand aan fiksie wil waag en nog misdaadboeke wil skryf. Hy gee weg dat sy twee voltooide kortverhale dalk later tot ‘n fiksie boek kan ontwikkel.
“Kriminele fiksie is ‘n groot moontlikheid en dan sal dit beslis afspeel in die Wes-Kaap, Kaapstad en selfs die Helderberg waarvan ek die institusionele geheue het van hoe dinge hier in die sewentig was en tot die huidige is. Ek het in die Strand, wat deel is van die Helderberg, opgegroei en het hier 18 jaar skoolgegee. Ek het ook met groot kommer die totstandkoming van bendes en hul bedrywighede in hierdie area oor die jare waargeneem.” -Julian-
Vyf vinnige vrae:
- Gunsteling gereg? Geurige frikkadel; braaitjops en dan plein vis&tjips.
- Gunsteling vakansiebestemming? Greyton in die Overberg of die Karoo – vir die stilte.
- Koffie of tee? Moerkoffie of die fênsie Americano.
- Honde of katte? Honde: my Jack Russels en jip ek wil nog ‘n mooi kat (ek bedoel een met vier, pote hoor) kry.
- Oggend of aand? Oggend; 5:00 op, Carpé Diem!
Sosiale Media Skakels: https://www.facebook.com/julianjansenjournalist
‘Moord op Stellenbosch’ is by toonaangewende boekwinkels en aanlyn beskikbaar. ISBN: 9780624091745
Onderhoud in samewerking met NB-Uitgewers https://www.facebook.com/NBPublishers/
Annette Havenga – Happening News SA ©
Die Bolandse paradigma is erg patriagaal. Ryk, minder intelligente mans trou dikwels met arm, intelligente vroue om die bloedlyn te verbeter🤫
Die vraag is of dit help? 😉
By watter boekhandelaars op stellenbosch is dit beskikbaar teen n billike prys asseblief? Die moord van d mooie Hannah kind sal altyd by my spook.
Hallo Fransiena
Ons het ongelukkig nie die inligting van watter boekwinkels nie, maar daarom probeer ons om altyd die ISBN nommer in te voeg. Dan kan jy vra dat die boekwinkel dit vir jou bestel.