Talentvolle Melissa Myburgh as Mart in Dinge van ‘n kind

Die jong, talentvolle Melissa Myburgh is tiener-Mart in Dinge van ‘n kind. Sy het ‘n BA Drama (Toneel) graad van die Universiteit van Stellenbosch. Sy het onder bekende Afrikaanse aktrises en akteurs opleiding gehad, soos Nicole Holm, Stian Bam, Susanne Beyers en nog meer. Susanne Beyers is ook die ouer Mart in Dinge van ‘n kind.

Foto krediet: tvsa.co.za

Melissa het in verskeie toneelstukke, films en TV-reekse opgetree. In ‘n onlangse artikel in Rooi Rose, sê Melissa sy wou nog altyd ‘n performer gewees het. Sy wil vir die res van haar lewe speel en stories opmaak. Volg gerus die skakel om die artikel te lees.

Die dinge van ‘n kind deur Marita van der Vyver is die storie oor Mart Vermaak as tiener en 30-jarige expat wat in London bly. Die TV-reeks Dinge van ‘n kind is egter aangepas vir kykNET se kanaal 144, met ‘n kykie in die lewe van die ouer, hedendaagse Mart wat ook nuwe realiteite moet hanteer. Dit lyk of die arme Mart net nooit sonder issues in haar lewe is nie.

Melissa Myburgh het my verras as tiener-Mart. Sy is ‘n ongelooflike talentvolle jong aktrise en ek glo ons gaan nog baie van haar sien. Haar onskuld as Mart trek my aan, veral omdat sy nooit haar nuuskierigheid daardeur laat stop nie. Ek het ‘n paar vrae aan Melissa gevra nadat ek die eerste episode van Dinge van ‘n kind gesien het.

Hierdie is jou tweede groot rol in ‘n Afrikaanse produksie. Kykers ken jou as Mika in Kompleks. Mika en Mart is twee uiteenlopende karakters. Hoe voel jy oor Mart, veral haar onskuld en nuuskierigheid oor DIT?

Mart is my tweede groot rol, ja, maar ek dink nie ‘n rol of karakter het al ooit so baie vir my beteken nie. Ek dink Mart is net die coolste meisie ooit. Ek vind so baie aanklank by haar, en ek dink ander kykers gaan ook. Sy dryf die metafoor van grootword. Mart word ‘n soort van allegorie vir die ontnugtering van grootword, en ook Suid-Afrika wat deur die grootword proses moes gaan in die 70s. Ons as ‘n land het in onkunde geleef, en toe ons begin vrae vra het, het die sluiers van ons oë af geval.

Jy is seker nuuskierig om die volle reeks te siene te kry – om te sien hoe Mart van tiener na die ma van ‘n volwasse kind ontwikkel?

Foto krediet: kykNET

Ek is ongelooflik opgewonde. Ek het nog net die eerste twee episodes gesien, en ‘n toneel hier-en-daar, so ek kan nie wag om te sien wat hulle gedoen het nie. As akteur speel jy so klein rolletjie in die hele projek, so wat jy ingee, is nie noodwendig wat op die ou end op die skerm is nie. So ek is senuagtig, ek weet my werk is klaar gedoen, maar Afrikaanse kykers kan soms brutaal wees met hulle terugvoer. Ek hoop net ek stel nie die aanhangers van die boek teleur nie. Ek het ook opsetlik nie die hede-storielyn gelees nie, want ek wou nie gehad het dit moes my keuses vir jong-Mart beïnvloed nie. En nou is dit ‘n lekker verrassing in die storie, so ek is baie opgewonde om te sien wat in die hede-storielyn gebeur.

Hoe sou jy wou hê moes die ouer Mart wees? (Ons sal later kyk hoe na jy aan die waarheid gekom het.)

Ek is effens in twee geskeur oor hierdie: ‘n Deel van my wil hê sy moet ongeskonde groot word, Parys toe trek waar sy in haar loft-kamer kan sit en skryf (dit is haar grootste droom in die storie/boek). Ek wil hê sy moet haar drome volg en haar volle potensiaal bereik. Ter selfde tyd is ek so na aan die storie en haar as karakter, dat ek amper saam met Mart verlief geraak het op die mense in haar lewe. So dit breek my hart bietjie om te dink dat sy aangaan met haar lewe en hierdie mense agterlaat. Ek wil amper hê sy moet nooit “aan beweeg” van die gebroke harte wat sy ervaar het nie, want hartseer en rou is al die liefde wat jy nog nie uitgedruk het nie. Dis ‘n manier om die mense wat nie meer by jou is nie te eer. Ek wil nie te veel weggee van die storie nie, maar ek wil amper nie hê Mart moet aan beweeg nie, ek wil hê sy moet haar tiener jare en die mense wat haar verlaat het vir altyd rou.

Ek kan nie wag om in die toekoms meer van Melissa Myburgh te sien nie. Mag jou ster vir baie lank nog skyn en Suid-Afrikaanse gehore vermaak.

Dinge van ‘n kind, Episode 2 is vanaand om 20:00 op kykNET, kanaal 144

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *