Showmax het sopas die lokprent vir Seisoen 2 van Troukoors bekendgestel en aangekondig dat die volgende 14 episodes van die Showmax-trefferreeks op Donderdag 5 Mei beskikbaar sal wees om te binge.
Ek het al ‘n geruime tyd gelede gesien Troukoors kom telkens op as ‘n reeks wat vir my aanbeveel word op Showmax. Om een of ander rede het ek gedink dis ‘n realiteitsreeks en ek is nie so groot op die kyk van realiteitsprogramme nie. My kollega het my uitgedaag om dit te kyk en ‘n review te skryf. Vrydag het dit heerlik gereën in die Kaap en dit was dus die ideale dag om ‘n nuwe reeks te begin binge en na werk het ek onmiddellik begin kyk na Seisoen 1 van Troukoors.
Die wie my goed ken, sal weet ek is maar sinies oor die liefde en op amper 52 was ek nog nooit getroud nie – omdat ek doodeenvoudig myself net nie só permanent aan iemand wou verbind nie. Maar ek is totaal en al verslaaf aan love stories en Troukoors het my van die begin af geboei met lekker vermaaklike situasies tussen die karakters!! Wanneer dit lyk of Jessica uiteindelik haar deksel kry, begin ek tóg wonder: dalk is daar tog ‘n Mnr Reg-vir-my vir wie ek dalk daardie permanente keuse sal maak!
Troukoors het die Afrikaanse fiksionele reeks geword wat die meeste gekyk is toe dit in Desember 2021 bekendgestel is. Dis tans net agter Sex in Afrikaans en Devilsdorp in terme van eerste-dag kyksyfers vir ’n Afrikaanse titel op Showmax.
Troukoors gaan oor drie beste vriendinne: die bruilofbeplanner Jessica wat desperaat glo aan die liefde (Ilse-Lee van Niekerk); haar suster Luca (Blyde Smit), ‘n sagteware-ontwikkelaar; en haar beste vriendin Abi (Bianca Flanders), ‘n professionele bakker en sex addict.
Seisoen 2 begin waar Jessica steeds saam met die liplekker chef Liam (Christiaan Schoombie) is, hom verloor in die proses en dan lyk dit of daar dalk weer ‘n kansie vir hulle twee is. Haar suster, Luca, probeer desperaat om ‘n langafstand verhouding handhaaf met haar kroegman kêrel Stefan (Evan Hengst) wat ‘n fantasieskrywer geword het; en Abi is op ‘n sex-vas wat ons almal weet nie lank gaan hou nie …
Die lokprent gee ons ’n eerste kykie na van die versoekings waarin hulle gelei word, insluitende 2022 Fleur du Cap-wenner David Viviers (Tali’s Baby Diary, Kanarie) as ‘n videospeletjie-ontwerper wat saam met Luca werk om Stefan se boek tot ‘n speletjie te verwerk, en Silwerskerm 2022 Beste Akteur: Kortfilm-wenner Marlo Minnaar (Die Boland Moorde, Aan/Af) as ‘n Wiskunde-tutor wat Abi se oog vang. Edwin van Der Walt (Wonderlus) wat vir ‘n Silwerskerm-toekenning as Beste Akteur benoem is, speel ook hierdie seisoen ‘n groter rol.
Hou ook die lokprent fyn dop vir verskynings deur SAFTA-wenner Ilse Klink (Skemerdans, Stroomop) as Patricia en ontluikende ster Kylie Fisher (Recipes for Love and Murder) as Zamanti, ‘n influencer om wie se troue Jessica as beplanner kompeteer. Jessica gaan ook hierdie seisoen Abi se pa Karel (SAFTA-wenner Kevin Smith) help om sy troue met Nathan (Melt Sieberhagen) te beplan. Daar is nog een groot troue op die kaarte hierdie seisoen, maar gehore sal moet wag om te sien wie die gelukkige paartjie gaan wees.
Kritici was smoorverlief op Seisoen 1, met Witness wat die reeks “eiesoortig en vol hart” genoem het, Die Son wat gesê het dis “snaaks, opreg en stout”; en Vamers ‘n “vars bries”; Channel24 het verklaar “Dis verstommend … alles wat ‘n mens van ‘n vakansie-binge verwag. Hierdie is nie jou Ouma se Afrikaanse reeks nie – dis modern, pret en plaas onkonvensionele verhoudings in die kollig wat nie gereeld in dié medium gesien word nie. Hoogs vermaaklik.”
Troukoors is geskep deur SAFTA-wenner Louis Pretorius en SAFTA-benoemde Albert Snyman van Infinity Films (Die Boekklub, Fynskrif), met gereelde medewerker Nina Swart as regisseur.
“Ons het besluit om ‘n ligte en prettige reeks te skep wat oor hedendaagse romanse gaan,” sê Louis. “Ek dink ons het ons doelwit bereik, maar Troukoors het gegroei tot soveel méér as dit. Dit het ook ‘n viering geword van vriendskap en gekose families, want ons almal kort meer as een mens om ons harte vol te maak. Ons het elkeen ons eie klein gemeenskap nodig om die persoon te word wat ons veronderstel is om te wees.”
Binge Seisoen 2 van 5 May 2022 af, net op Showmax. Intussen kan jy hier opvang op Seisoen 1 op Showmax: https://www.showmax.com/eng/tvseries/zdaenoqa-troukoors-wedding-fever.
Artikel & foto bron: Showmax